Alexanderstraat 3, Stellenbosch. TEL: 021 886 5132.

SENDELINGFOKUS: VGK DECOLIGNY

s-dandala-family

Een van Stellenbosch-Wes se uitreike is na die VGK Decoligny in die voormalige Transkei. Die gemeente is net buite Mthatha (Umtata) geleë en het agt buiteposte. Saam met die NGK Mthatha is hulle ook betrokke by Sinethemba Sentrum vir Spesiale Vaardighede waar kinders met verstandelike gestremdhede gehelp word. Ds. Willem Botes het onlangs by Decoligny afgetree na ʼn bediening van meer as dertig jaar. Daar is elf gemeentes in die Transkei en net drie het leraars. Decoligny is tans ook vakant maar word wel deur Sam Dandala bedien.

Sam het self in die Transkei grootgeword. Hy ken die kultuur van sy lidmate en maak daarvan gebruik wanneer hy die evangelie aan hulle bring. Hy was vir agt jaar ʼn leier van Operasie Mobilisasie se voorskip om reëlings te tref met owerhede voordat die boot kon vasmeer. Op hierdie manier het hy met die skepe Doulos en Logos Hope meer as tagtig lande besoek en ook deelgeneem aan evangelisasie op baie plekke. Hy is wyd blootgestel aan talle belangrike fasette van leierskapontwikkeling. Hy het in 2015 sy eerste jaar van teologiese studies by UNISA voltooi en gaan vanjaar daarmee voort. Dit sal vier jaar duur. Wanneer hy gelegitimeer is, sal hy sy bediening in Decoligny nog verder kan uitbrei.

Sam en sy vrou Amanda het saam met hulle seuntjie KJ ons gemeente in Mei besoek. Hy het by Gielie de Waal se selgroep en ook by ʼn erediens vertel van die Here se werk in Decoligny. Hy het klem gelê op die eenheid van die kerk van Christus. Ons word saam geroep tot diens van die Here, om ook in ons eenheid sout en lig vir die wêreld te wees.

Die grootste gawe wat Stellenbosch-Wes volgens hom aan Decoligny kan gee, is om deur ons gebede, ondersteuning, briewe en besoeke ons te vereenselwig met die werk waarmee die Here daar besig is. Dit strook ook met die getuienisskrif wat ons gemeente in 2015 opgestel het.

Sam kan gekontak word by 073 844 4698 of by [email protected].

Soos weergegee in Lewende Lote, Lente-uitgawe.  Geskryf deur Gerhard Geldenhuys.