Alexanderstraat 3, Stellenbosch. TEL: 021 886 5132.

Brief aan Stellenbosch-Wes gemeente. (Koronavirus)

Pastorale brief aan die NG Gemeente Stellenbosch-Wes

Geliefdes in die Here Jesus Christus, lewende lote,

As geloofsgemeenskap is ons in solidariteit met die krisis wat ons land asook die
internasionale gemeenskap beleef. Die kerkraad wil sover moontlik in ooreenstemming met
die nasionale ramptoestand wat op Sondagaand 15 Maart 2020 deur president Cyril
Ramaphosa aangekondig is, pro-aktief optree om die verspreiding van die koronavirus te
bekamp. Ook die moderator van die NG kerk het laat weet dat ons eerder voorkomend moet
wees en self verantwoordelikheid moet neem.
(Sien pastorale brief van die moderatuur van die Sinode van Wes-Kaapland.)

Die volgende besluite rakende die bestuur van gemeente aktiwiteite is geneem:

Gemeentebyeenkomste

Alle gemeentebyeenkomste insluitend eredienste, kategese, kleingroepe en vergaderings staak tot 30 April 2020, waarna die omstandighede weer geëvalueer sal word.

Die weeklikse preek sal elke Sondag vanaf 22 Maart op die internet gelaai word.

Lidmate kan die gemeentewebwerf www.stellenboschwes.co.za besoek om na die erediens te kyk, of op Youtube kyk by die kanaal van die NG Kerk Stellenbosch-Wes. Die eredienste sal op rekenaars, slimfone en slim-TV-toestelle gekyk kan word. Tydens die Paasnaweek sal die Goeie Vrydag preek op 10 April ook op die internet beskikbaar wees.

‘n Audio (klank) weergawe van die preke sal ook beskikbaar wees. CD’s van die vorige week se preek kan by die kerkkantoor bestel word.

Huisbesoeke en hospitaalbesoeke
Leraars doen steeds huisbesoeke by lidmate wat aandui dat hulle ’n behoefte aan ’n besoek het. Hospitaalbesoeke sal gedoen word as die hospitaal dit toelaat en indien dit noodsaaklik is.

Kerkkantoor
Die kerkkantoor sal steeds oop wees maar ons vra om die nodige afstand te hou en geen hande te skud nie. Waar moontlik is dit beter om die kerkkantoor telefonies te kontak.

Ondersteuning aan geaffekteerde lidmate
Die gemeente wil graag ondersteuning bied aan lidmate wat moontlik praktiese hulp gaan benodig. Kontak asb die kerkkantoor of een van die leraars.

Byeenkomste in die gemeente se fasiliteite
Alle byeenkomste of aktiwiteite wat deur buite-instansies in die kerk se fasiliteite (insluitend
die gemeentesentrum) aangebied word, is tot 30 April 2020 gekanselleer.

Finansiële bydraes
Die gemeente is steeds afhanklik van finansiële bydraes en ons doen ’n beroep op lidmate om steeds ’n bydrae tot gemeente werksaamhede te maak deur middel van EFT-
oorbetalings na:

NG GEMEENTE STELLENBOSCH WES
Nedbank
Takkode: 198765
Rekeningnommer: 1498043291
Verwysing: Erediens offergawes

Of Snapscan

Ten slotte
President Cyril Ramaphosa het ’n beroep op alle landsburgers gedoen en gevra dat diegene
wat hulpbronne het en gesond is die behoeftiges en dié wat weerloos is, moet bystaan. As
gelowiges glo ons dat dít ook die opdrag is wat ons van Jesus Christus ontvang het.

Mag ons ook in dié onbekende tye die genade ontvang om steeds Jesus se hande en
voete in die wêreld te wees en hoop bring.

Seëngroete,

Die Kerkraad
NG Gemeente Stellenbosch-Wes
17 Maart 2020

 

LAAI DIE BRIEF AF IN PDF FORMAAT