Alexanderstraat 3, Stellenbosch. TEL: 021 886 5132.

Boekresensie: Samen dansen in de kerk

Samen dansen in de kerk:  als mannen en vrouwen op God lijken Almatine Leene
Buijten en Schipperheijn Motief, Amsterdam, 2013

Oor die rol van die vrou in die kerk is daar oor baie jare reeds talle debatte gevoer en studies gepubliseer. ’n Mens kan dus vra: Lewer hierdie boek enige nuwe bydrae tot dié onderwerp? Die antwoord is ’n onomwonde JA.

In die verlede het die fokus oor hierdie onderwerp gewoonlik geval op die gebruike in die Bybelse tye soos dit in die Bybel opgeteken is, en die funksionering van mans en vroue word dan toegepas op die huidige kerk. Almatine volg egter ’n verrassende nuwe benadering wanneer sy as uitgangspunt neem ons begrip van die aard van God Drie-enig en ons verhouding met Hom as sy beelddraers. Sy fokus sterk op God as Drie-eenheid en kom tot die slotsom dat die Vader, Seun en Heilige Gees gelykwaardig (gelyk in status) is, hoewel hulle nie funksioneel gelyk is nie, want hulle vervul verskillende funksies. Net so is man en vrou ook gelykwaardig, hoewel hulle nie in alle opsigte gelyk (eenders) is en altyd oral dieselfde funksies en rolle vervul nie.

Hierdie perspektiewe impliseer dat ons (mans en vroue) as God se beelddraers op alle terreine as gelyke gesagsdraers in die kerk moet saamwerk. Dit vereis volledige aanvaarding van mekaar, asook afhanklikheid van mekaar. Dit bring die leser tot ’n bevrydende ontdekking van wat dit beteken om volledig kerklidmaat te wees. Samen dansen in de kerk is beslis nie slegs vir Dames nie, maar vir elke man en vrou wat Gods beeld wil uitleef.

Waarom die ietwat vreemde titel van “dans in die kerk”? Die laaste hoofstuk (It takes two to tango) spel dit duidelik uit. Aangesien dans net werklik slaag indien meer as een persoon deelneem, word dit gebruik as beeld vir die man en vrou se gesamentlike funksionering as lidmate van die Kerk van Christus. Daaruit vloei vrae soos: Is jy bereid om te “dans” met iemand wat anders as jy is en ander sienswyses as jy het? Onthou: dans impliseer om mekaar vas te hou en die ander te stuur, maar ook om jou deur die ander te laat lei! Die titel is ook gekies omdat die woord perichorese, wat in die kerkgeskiedenis gebruik is om die Drie-eenheid te verduidelik, letterlik ‘rondedans’ beteken.

Samen dansen in de kerk is ’n toeganklike weergawe van Almatine se proefskrif. Alhoewel in Nederlands, is die taalgebruik en skryfstyl sodanig dat die meeste Afrikaanssprekendes dié juweel van slegs 120 bladsye waarskynlik sal kan geniet. Boonop kom heerlike humoristiese momente voor. Lees maar net die heel eerste paragraaf van die boek(p.11) oor ons “domineetje” se eerste treë na die kansel.

Aktuele voorstelle vir bespreking word na elke hoofstuk verskaf, sodat die boek ook met groot vrug in groepverband gebruik kan word.

samen-dansen-in-de-kerk-als-mannen-en-vrouwen-op-god-lijken-almatine-leene-boek-cover-9789058817426      Dit is by die kerkkantoor beskikbaar teen R190.