Alexanderstraat 3, Stellenbosch. TEL: 021 886 5132.

Getuienisskrif

Stellenbosch-Wes se lidmate wil graag leef vanuit ʼn lewende verhouding met Christus, die Hoof van die gemeente.  Ons wil graag die Here toelaat om ons te snoei sodat ons kan groei en die vrug van die Heilige Gees kan dra.  Ons wil graag die evangelie oral deel met die mense wat Hy oor ons lewenspaaie  bring.

Ons is ʼn diverse gemeente wat kleuters, die jeug, jongmense, werkendes in ʼn wye verskeidenheid beroepe, afgetredenes, verswakte bejaardes en mense met gestremdhede bedien.  Die jeug en ʼn bediening wat met hulle styl in pas is, is vir ons baie belangrik.

Die eredienste is vir ons sentrale gebeurtenisse waar die Here aanbid word, die Woord van God verkondig word en al die handelinge bydra tot die belewing van ʼn ontmoeting tussen God en sy gemeente.

Ons glo dat die gemeenskap van gelowiges, gebed en verdieping in die Woord baie belangrik is.  Ons weet egter dat ons veel meer sal moet doen om gestalte daaraan te gee in kleingroepe, gesamentlike aksies, gasvryheid, goeie kommunikasie en die aktiewe meelewing van al ons lidmate.  Daar is behoefte aan geleenthede en strukture vir die opbou van verhoudings en die beoefening van die gemeenskap van gelowiges deur saam te bid, saam Bybelstudie te doen, saam te groei, saam te dien, saam te getuig en saam uit te reik.

Ons glo dat die toerusting van lidmate en van leiers baie belangrik is.  Ons weet egter dat ons baie meer sal moet doen sodat dit kan lei na standhoudende dienslewering en getuienis.

Ons glo dat ons ook in breër verband gehoorsaam moet wees aan God se opdragte oor evangelisasie, sending en versorging en wil graag hande vat met ander gemeentes en organisasies wat dieselfde doel nastreef.