Alexanderstraat 3, Stellenbosch. TEL: 021 886 5132.

ONS VAT HANDE: ISM

INTERNASIONALE STUDENTE BEDIENING

Lees gerus hieronder ‘n brief van een van die organisasies met wie ons hande vat in Stellenbosch (om so die uithoeke van die aarde te bereik):

“Beste Voorbidder

Baie dankie vir jul voorbidding vir die internasionale studente bediening. Tans is daar ’n toename in studente uit die Arabiese lande wat na Stellenbosch kom. Dit bied unieke geleenthede vir kontak met mense wat uit geslote lande soos Jemen, Libië en Saudi Arabië kom.

Ons benodig baie wysheid vir die wen van studente se vertroue uit diverse kulture, om later die evangelie met hulle te kan deel. Huidiglik is daar baie Arabiese studente wat geskikte blyplek soek en ons nader vir raad en hulp.

Ons gebedsversoeke vir Januarie en Februarie is aangeheg. Ons waardeer jul betrokkenheid en omgee.

Vriendelike groete van Jurie en Magdaleen

Gebedsversoeke van internasionale studente bediening op Stellenbosch.

  1. Nuwe inname van studente by Stellenbosch Universiteit – bid vir:
  • Aanpassing van nuwe internasionale studente op Stellenbosch en hantering van kultuurskok. Meer as 4, 000 int. studente van 110 lande was in 2016 op kampus. Hulle is room van lande en toekomstige leiers.
  • Baie kom uit geslote lande in die 10/40 venster. Daar is ʼn toename in Arabiese studente van Jemen, Libië, Saudi Arabië wat Engelse taalstudies doen.
  • Vrede en stabiliteit op kampus na die “Fees must fall” en “Free education” veldtogte in 2016. Wysheid vir Rektor en bestuur van Universiteit.
  1. Behoeftes van bediening:
  • Dis ʼn geloofsbediening en meer donateurs word benodig om gereeld by te dra tot lewensonderhoud, pensioen en mediese skema.
  • Uitbou van projekspan van Helderberg- ’n nuwe tesourier word benodig.
  • Dank vir Philipp Ragette, ʼn intern van Oostenryk, wat help met bediening.
  1. Ondersteuning van student –  bid vir:
  • Ondersteuning van eensame vroue van internasionale studente. Magdaleen en helpers se weeklikse groep vir getroude vroue begin weer op 24 Januarie.
  • Voorsiening van meer leiers vir internasionale geloofsgemeenskap.
  • Die Engelstalige erediens op Sondae en betoning van gasvryheid daarna.
  • Beplanning en retraite van leiersgroep van 27-29 Januarie te Zikomo, Strand.

Ds. Attie van Wijk, voorheen van Bybel-Media, gaan deel oor geestelike leierskap.

  • Geestelike groei van studente deur weeklikse Bybelstudie groepe.
  • God se leiding rakende studente met wie ons pad van dissipelskap moet loop.
  • ʼn Student van Saudi Arabië wat vir tyd by ons gaan woon tydens sy Engelse taalstudies.
  1. Kontak met student – bid vir:
  • Geleenthede om Arabiese Bybels en Jesus DVD in Arabies te gee.
  • Wysheid in kontak met studente van Iran. Baie is ontnugter met radikale Islam en soek ʼn alternatief. Geleenthede om Persiese Bybels en Jesus DVD te gee.
  • Wysheid hoe om studente met probleme te help en hoop te gee.
  1. Gesin – bid vir ons kinders:
  • Philipp se visum aansoek vir besoek aan V.S.A in begin Februarie. Hy is gekies as om aan “Super computing” kompetisie deel te neem, as deel van Suid-Afrikaanse span van universiteite. Hulle is uitgenooi deur ʼn rekenaar maatskappy in Texas, voor hulle aan internasionale kompetisie deelneem gedurende Julie in Duitsland.
  • Dank vir Timo en Faye se troue in Desember 2016 wat goed verloop het en vir hul huwelik. Timo het onlangs by Amazon se IT afdeling in Kaapstad begin werk.
  • Christo wat by nuwe IT maatskappy in Bellville begin werk het.
  • Geestelike groei van ons kinders.”