Alexanderstraat 3, Stellenbosch. TEL: 021 886 5132.

BOEKRESENSIE: HANNA

hanna-maretha-maartens-375x400

Boekresensie:  Hanna, Maretha Maartens, Lux Verbi, 2016

Maretha Maartens het haar oor etlike dekades reeds gevestig as ’n prominente skrywer van Christelike lektuur.
Hanna is haar eerste Bybelroman. Die hoofkarakter is die Hanna van I Samuel 1 en 2, die vrou van Elkana en die moeder van Samuel, “die vrou wat haar kind vir die Here gegee het”, soos die boek se subtitel lui.

Op grond van die beperkte inligting wat in slegs twee hoofstukke in die Bybel oor Hanna gegee word, bou Maretha Maartens ’n aangrypende verhaal oor die lewe van Hanna, wat as kinderlose vrou haarself moes handhaaf in ’n era en gemeenskap waarin kinderloosheid as God se straf vir sonde beskou is. Die spanningselemente in die verhaal lê op verskillende vlakke, onder andere in Hanna se belewing van onvermoë en mislukking omdat sy nie vir Elkana ’n nageslag kan gee nie, in die bespotting en vernedering wat sy van Elkana se ander vrou, Pennina, moet verduur, en in haar vrees dat haar minagting vir haar pa die sonde is waarvoor die Here haar met kinderloosheid straf.

Uiteindelik gee Hanna haarself in die Here se hande oor met die belofte dat, indien Hy haar met ’n seun sal seën, sy daardie seun vir Hom sal teruggee.

In sy resensie in Die Burger (Okt. 2016) sê JB Roux: “Soos enige roman wat op ’n historiese werklikheid gegrond is, is die groot uitdaging vir die skrywer om getrou te bly aan die inligting wat beskikbaar is – én om dit aan te vul met fiktiewe karakters en gebeure wat naatloos daarby inskakel. Maartens doen dit meesterlik.”

Soos die meeste Bybelromans gee ook Hanna vir die leser waardevolle Bybelkundige agtergrondinligting oor die tradisies en gebruike van die tydvak waarin dit afspeel, wat die leser help om die Bybel beter te verstaan.

Hanna word deur Lux Verbi uitgegee teen R185.

Geskryf deur:  Chris Ackermann

Soos weergegee in Lewende Lote, Someruitgawe