Alexanderstraat 3, Stellenbosch. TEL: 021 886 5132.

BANDE MET VLOTTENBURG

BANDE MET VLOTTENBURG

Die Verenigende Ring van Stellenbosch het in 2006 tot stand gekom tussen die gemeentes van die NGK en die VGK in Stellenbosch. Binne hierdie Ring is die VGK Vlottenburg, ʼn gemeente wat gekoppel is met ons by Stellenbosch-Wes. In die getuienisskrif wat ons verlede jaar opgestel het, bely ons dat ons ook in breër verband gehoorsaam moet wees aan God se opdragte en dat ons graag hande wil vat met ander gemeentes wat dieselfde doel as ons nastreef. Daar is vanjaar dan ook aktief gewerk om ons bande met Vlottenburg te verstewig.

Ons Pinksterreeks is baie goed bygewoon deur lidmate van Vlottenburg. In Mei het lidmate van Stellenbosch-Wes ʼn erediens by Vlottenburg bygewoon. In Oktober het lidmate van Vlottenburg weer die erediens by ons bygewoon. Die kerkkoor van Vlottenburg het by albei eredienste vir opheffende koorsang gesorg.

In albei gevalle was daar ook geleentheid om ná die diens saam tee te drink, verversings te geniet, oor en weer kontak met mekaar te maak en mekaar se verhale en getuienisse te hoor. Ons glo dat daar vanjaar goeie vordering gemaak is en sien hoopvol uit na verdere samewerking met Vlottenburg in die koninkryk van die Here. Nog gesamentlike eredienste met hulle word vir 2017 in die vooruitsig gestel. Hierdeur probeer ons om sigbaar gestalte te gee aan die band van eenheid met ons broers en susters wat die Heilige Gees self skep.

Geskryf deur: Gerhard Geldenhuys

Soos weergegee in Lewende Lote, Someruitgawe